NG Gemeente Groblersdal | Bedieninge

Bedieninge

"Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen 'n lid daarvan. En in die kerk is daar mense aan wie God 'n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. 29Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê? Lê julle toe op die beste genadegawes."

- 1 Kor.12:27-31

Dit is ons geloofsoortuiging dat die Kerk vir elkeen 'n tuiste bied. Elkeen van ons pas iewers in die liggaam en het 'n bepaalde funksie, of soos ons dit verstaan, 'n bepaalde roeping ontvang om te gaan uitleef tot eer van die Here. Daarom hoef ons nie almal dieselfde gawes te deel nie, maar vul ons mekaar juis aan deur die verskiedenheid van gawes. Hierdie gawes bepaal dan ons gemeente se bedieinge. 

Die goeie werke wat ons dus doen is ons manier om dankbaarheid te toon teenoor die Here vir Sy kruisdood en opstanding. Ons wil graag die Here verheerlik deur ons leefwyse en Hy beveel ons ook om dit te doen. Die Woord leer ook vir ons die volgende:

"Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik."

- Matt. 5:16

Aanbidding

Bedieninge

Die fokus van hierdie bediening is die Erediens en om verdere geleenthede te skep waartydens mense die Here kan aanbid. Die motivering vir  hierdie bediening is die oortuiging dat die Erediens die hartklop van ‘n gemeente is. Daarom wil ons ‘n ruimte skep waartydens mense die Here loof en aanbid, omdat Hy die Een is wat die gemeente saamroep. Ons skep dus vir mense die geleentheid om op God se roepstem te reageer.

Getuienis

Bedieninge

Die bediening se fokus is die verspreiding van die Evangelie. Dit is gebaseer op verskeie tekste maar veral Matteus 28:19-20

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” 

Ons as gemeente strewe dus daarna om gehoorsaam te wees aan hierdie opdrag en skep daarom platforms en geleenthede waardeur ons kan getuig tot eer van die Here.

Barmhartigheid

Bedieninge

Hierdie bediening se fokus is om uit te reik na ons medemens en mekaar se laste te dra. Dit is ons oortuiging dat die Here van ons vra om na mekaar om te sien en mekaar lief te hê. In 2 Korintiërs 9:7 lees ons die volgende:

“Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”

Ons as gemeente wil graag blymoedige gewers wees tot eer van die Here. Ons reageer dus op Sy vrygewigheid en liefde deur self met oop hande te lewe.

Vrouebediening

Bedieninge

Die bediening se fokus is die verspreiding van die Evangelie. Dit is gebaseer op verskeie tekste maar veral Matteus 28:19-20

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” 

Ons as gemeente strewe dus daarna om gehoorsaam te wees aan hierdie opdrag en skep daarom platforms en geleenthede waardeur ons kan getuig tot eer van die Here.

Jeug

Bedieninge

Ons glo dat kinders ‘n spesiale plek het in die koninkryk van God. Daarom doen ons moeite om seker te maak hulle voel deel van die gemeenskap van gelowiges en dat hulle meer leer van die Bybel en oor God.

Jesus het in Matteus 19:14 die volgende gesê: 

“Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na my toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” 

Ons wil daarom vir ons kinders ‘n platform skep waarin hulle kan groei in hulle kennis en in hulle persoonlike verhouding met God. Ons wil graag hê kinders moet die Evangelie glo en hulle eie maak.

Ons wil ook graag ons ouers ondersteun om hulle doopbeloftes na te kom deur vir hulle kinders ‘n platform te bied waarin hulle kan leer wat die wil en die wee van die Here is.

Bybelstudie Materiaal

Bedieninge

Die hart agter hierdie bediening is om soveel mense moontlik te bereik. Ons lewe tans in ‘n digitale wêreld en die internet en sosiale platforms maak dit vir ons moontlik om mense regoor die wêreld te kan bedien met ons Eredienste en ander materiaal wat ons vir mense wil beskikbaar stel.

Hierdie bediening fokus dus op die instandhouding en uitbreiding van ons sosiale platforms soos Facebook, Instagram, die Website en natuurlik YouTube. Dit is ‘n bediening wat groei en ons bereik derduisende mense wêreldwyd. Ons bereik so tussen 80 000 en 'n 100 000 mense deur ons Facebook page per maand. Ons wil graag hierop bou en die Evangelie so wyd as moontlik versprei.

013 262 4207

Kontak ons. Ons is gereed om u te help.

Kontak Ons